resensies
Ek was hoopvol toe ek vanoggend by "the daily" ingestap het om te gaan kyk wat hulle my kon bied vandag. Ek is vriendelik ontvang en is gehelp om 'n plekkie te kry in 'n vol winkel. Daar was 'n baie lekker atmosfeer en dit het gevoel asof dit lekker hier kan raak. Ek is by 'n groot tafel laat sit saam met twee ander dames. Dit was nogal lekker en is soortgelyk aan wat verskeie koffiewinkels begin doen om 'n gemeenskap gevoel te skep en mense ruimte te gee om met nuwe mense te "connect" en te netwerk. Ek het egter na 'n rukkie eerder na 'n ander tafel geskyf, ons Afrikaners hou maar mos van ons persoonlike ruimte.
​
Terwyl ek deur die spyskaart gekyk het was ek opgewonde om te sien dat hulle spesiale pryse het indien jy besluit om jou Americano, Cappuccino ens te hervul. Dit is iets wat ek nog nie by ander plekke gesien het nie. Ek het begin met 'n Americano. Ek het baie gehou van die aanbieding van die koppie op die houtbordjie, dit het mooi vertoon. Wat die smaak van die Americano betref het was niks spesiaal nie, dit was 'n Americano soos wat mens by enige koffiewinkel kan kry. Dit was nie besonders nie, maar ek het ook al slegter gedrink. Dit het vir my geproe of die "extraction" tyd bietjie lank was en daar was amper 'n smakie asof die bone gebrand het.
​
Ek het besluit om nie 'n ontbyt te eet nie aangesien dit amper middagete was. Hulle het 'n goeie verskeidenheid broodjies en ek het besluit om vir dit te gaan. Ek kan nie eers die naam onthou van dit wat ek gehad het nie, maar dit was een groot teleurstelling. Dit was nie mooi aangebied nie, dit het nie veel smaak gehad nie. Ek het al by verskeie koffiewinkels roosterbroodjies geniet, maar hierdie broodjie is meer tuis in 'n hospitaal as 'n koffiewinkel met so 'n metro-moderne gevoel. Dit het sleg afgesteek teen die manier hoe hulle hulle koffie bedien. Ek het my besoek afgesluit met die ou gewilde cappuccino. Die cappaccino was baie lekker en met netjiese latte kuns versier. Dit was sag op die pallet met 'n heerlike tekstuur gehad.
​
Ek hou baie van die hoe die winkel lyk en die gevoel wat hulle probeer skep. 'n Mens kry regtig die New York ontmoet Karoo gevoel. Ek sal "the daily" weer besoek as ek in die omgewing is en 'n vinnige koffie wil hê, maar sal nie sommer weer daar eet of spesiaal daarheen ry nie. Ek sal nog "the daily" in Aurora gaan besoek en sal graag die twee takke met mekaar wil vergelyk.
​
Koffie: 3/5
Verskeidenheid koffie: 3/5
Waarde vir geld: 2/5
Atmosfeer: 3/5
Diens: 5/5
​
Waar kry jy hulle:
​
​
​
​
​
​